En hoekom is lees so belangrik in ’n kind se ontwikkeling?

Die voordele van lees is legio, maar hoe gemaak om ’n liefde vir lees by jou kind te kweek? En hoekom is lees so belangrik in ’n kind se ontwikkeling?

My kinders het van babadae af boeke gehad. Plastiekboeke vir die bad, kartonboeke wat hulle maar kon kou, tydskrifte om uit te skeur (hulle het veral van dié met diere gehou) en prenteboeke, waarin hulle self kon blaai. Die spesiale boeke het ek saans voor slaaptyd voorgelees.

• Ek dink werklik Afrikaanse kinders lees te min, want Afrikaanse ouers lees te min. Dis belangrik dat jou kinders sien jy lees nie net vir werk nie, maar ook vir ontspanning. Vandag is dit een van my grootste lekkertes om op ’n koue dag die kaggel aan te steek en almal onder komberse met boeke of e-lesers te sien.

• Lank nadat my kinders self kon lees, het ek nog vir hulle voorgelees. Ons gesin reis baie en op ver paaie het ek kort-kort ’n hoofstuk gelees. (Kies die regte boek, anders gaan die pa naderhand iets oorkom!) Ons gunsteling-langpadboeke was die Pippie Langkous-reeks deur Astrid Lindgren en Droomoog Diepgrawer deur Leon de Villiers. Selfs my man het naderhand geskree: “Lees nog! Lees nog!”

• Uitstappies na boekwinkels was van jongs af vir my kinders ’n groot bederf. Daar is deesdae wonderlike boekwinkels wat allerhande interaktiewe programme vir kinders aanbied. Dis goed om die kinders aan te moedig om rustig in ’n hoekie van die boekwinkel te sit en lees of deurblaai, en ná ’n uur of wat kan elkeen een boek kies. Ek wou hê my kinders moet besef lees is ’n rustige affêre. Jy nael nie ’n boekwinkel in, gryp iets van die rak af en hol weer uit op pad na die volgende winkel toe nie.

• Ek sou baiekeer in voorleessessies ophou lees en vra wat húlle dink volgende gaan gebeur. Dit moedig kinders se kreatiwiteit aan en skep sommer ’n goeie geleentheid om oor die lewe te gesels.

• Ons het ure lank letterspeletjies in die motor gespeel. Ek sou vra vir woorde wat met sekere klanke begin, woorde wat rym, teenoorgesteldes en daardie ou bekende: name, vanne, diere en dorpe.

• Ek glo as ’n kind nie van lees hou nie, het hy of sy nog net nie die regte boek gekry nie. Stel vas waarvan jou kind hou (ballet, rugby, vliegtuie) en soek boeke daaroor. Dis veral soms ’n uitdaging om seuntjies aan die lees te kry. Navorsing toon dat die meeste seuns nie daarvan hou om van hoogs onwaarskynlike situasies te lees nie. Hulle hou daarvan om iets “nuttigs” te lees wat hulle in die alledaagse lewe kan toepas. My seun het byvoorbeeld van kleins af van feiteboeke gehou. Dan kon hy my ure lank vermaak met hoe hoog, hoe swaar of hoe vinnig alles op aarde is.

• Die eintlike doel is dat ons tog wil hê ons kinders moet léés, nie dat hulle noodwendig ’n bóék moet lees nie. Ouers moet dalk effens meer ontspan en hulp aanbied as kinders goed op die internet (of in ’n tydskrif) wil lees oor dinge waarin hulle belang stel.

• In ons huis is daar ’n groot okkasie gemaak van die dag waarop die kind “groot genoeg” was om ’n leeslampie te kry. Dit was gewoonlik hier rondom die tweede verjaarsdag. Ons het die lampie gaan uitsoek, en dan mag die kind saans ná storietyd vir ’n rukkie nog “lê en lees” en dan self die lampie afskakel. Dit was eintlik niks meer as boeke deurblaai nie, maar het wonderlik gewerk en was iets waarna hulle baie uitgesien het.

Rooi Rose

Deur Ilse Salzwedel.

“Bobby” konsert skuif na Vrydag 17 November 2017

Alle ‘Bobby” vertonings na 4 Oktober 2017 word aangeskuif  – sien asb die mediese kennisgewing.

Xcellence het kontak gemaak met elke persoon wat reeds Bobby kaartjies gekoop  het vir 14 Oktober 2017 om die nuwe datum van 17 November 2017 te bespreek. Skakel ons gerus vir enige navraag indien jy nie persoonlik gekontak is nie. Xcellence bestuur maak namens Bobby van Jaarsveld produksies verskoning vir enige ongerief en veserker dat alle kaartjies van 14 Oktober 2017 geldig sal wees op 17 November 2017.

Groete Xcellence bestuur

“Show & tell” by Xcellence

More is “show & tell” by Xcellence.Die kinders kan regtig bring wat hulle wil, of dit nou n slang is, n hond of n gediggie.Die idee is dat hulle bietjie navorsing doen oor wat hulle gaan vertel.

Net die volgende:

1) Alle diere moet ten alle tye in hulle eienaar se sorg wees of aan n “leash” of in n hok;

2) Dit is nie verpligtend nie en ek dwing nooit kinders om iets te doen wat hulle nie wil nie;

3) Ons sal so 10 uur begin en teen 12 uur klaar wees;

4) Dit kan ook n foto of prentjie van iets wees.

Groete, Alet